Kovsie FM 97.0 is 'n kampus- / gemeenskapsradiostasie in Bloemfontein, Suid-Afrika. Die radiostasie is geleë op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Die uitsaaigebied sluit 'n radius van ongeveer 80 kilometer in. Kovsie FM is in 1978 deur 'n groep studente gestig en het slegs binne die kafeteria uitgesaai. Die Onafhanklike Uitsaai-owerheid, nou bekend as OKASA (Onafhanklike kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika), het in 1995 'n uitsaailisensie met die frekensie 97.0 FM aan die radiostasie verleen. Kovsie FM 97.0 saai in Engels, Afrikaans en Sesotho uit. Die gehoor sluit die jeug tussen die ouderdom van 15 en 35 in. Die radiostasie se missie is om gemeenskapsbetrokkenheid, opleiding, ontwikkeling en volhoubaarheid te bevorder. Kovsie FM bied ook 'n platform vir plaaslike musikante en saai nuus uit wat akkuraat en onpartydig is. Die stasie het agt voltydse personeellede, waaronder 'n stasiebestuurder (Gerben van Niekerk), programbestuurder (JayBee Mohlante), bemarkingsbestuurder (Thendo Limbo), musiekbestuurder, produksiebestuurder (Morena Sprinkaan), sportredakteur en nuusredakteur.
Developed by StudentB